Óf jou telefoon se luidspreker is aan terwyl jy 'n lang gesprek met die personeelafdeling oor salarisaanpassings het. Net mooi in die middel van die gesprek staan die werknemer wie se inligting jy volgende moet bespreek, skielik by jou lessenaar.
Met die druk van 'n knoppie spring die telefoongesprek tot op jou rekenaarskerm.
Jy kan nou jou voorstelle tik terwyl die woorde van die persoon aan die ander kant van die lyn as teks op die jou rekenaarskerm verskyn. Nou is die gesprek weer privaat.
Twee navorsers van die tegnologiemaatskappy International Business Machines (IBM) is sedert 2002 besig om 'n stelsel te ontwikkel wat 'n wye reeks kommunikasietoestelle met mekaar kan laat skakel. Dit beteken die een gebruiker kan op sy telefoon praat, terwyl die ander een die stemboodskap as teks op sy handrekenaartjie (PDA) sien en met teks daarop reageer.
Die stelsel kan selfs die kommunikasiemedium bepaal waarmee boodskappe gestuur moet word deur vas te stel waar jy jou tans bevind en die betrokke aktiwiteit in jou elektroniese kalender na te slaan.
Dit is dus geen wonder nie dat die navorsers besluit het om die stelsel na die boodskappergod in die Romeinse mitologie -- Mercury (Mercurius) -- te noem. Mercury is die geesteskind van mnr. Anand Ranganathan, 'n doktorsgraadstudent aan die Universiteit van Illinois in Urbana Champaign, Amerika, en dr. Hui Lei, 'n navorser aan IBM se TJ Watson-navorsingsentrum in New York.
Mercury werk deur alle kommunikasie na 'n betrokke persoon te onderskep. Die stelsel gaan kyk dan op 'n sogenaamde konteksbediener waar die persoon hom bevind en wat die huidige aktiwiteit op sy elektroniese kalender is.
Hieruit bepaal Mercury na watter toestel hy die kommunikasie moet herlei. Die stelsel dien ook as tussenvertaler om seker te maak dat spraak byvoorbeeld na die telefoon gaan en teks op die skootrekenaar verskyn.
Mercury kan ook vasstel of die betrokke kommunikasietoestel aangeskakel is en 'n boodskap elders heen herlei indien dit nie bereikbaar is nie.
Volgens Ranganathan bestaan daar reeds stelsels wat eenrigtingkommunikasie -- byvoorbeeld 'n enkele teksboodskap tussen 'n selfoon en 'n rekenaar -- vergemaklik.
Mercury is egter volgens sy kennis een van die eerste stelsels wat tweerigtingkommunikasie soos 'n gesprek moontlik maak. Mercury kan selfone, SMS-stelsels, skootrekenaars, PDA's en selfs roepradio's met mekaar laat skakel.
Tans gebruik Mercury koordlose rekenaarnetwerke om vas te stel waar die betrokkene in die gebou is. "Ons gebruik nie GPS (satellietposisionering) nie.
"Indien die persoon se PDA of skootrekenaar hiervoor toegerus is, kan ons vasstel waar die gebruiker is. GPS werk nie goed in geboue nie, want dis moeilik om daarmee vas te stel op watter verdieping die persoon is. Verder belemmer die mure in die gebou en ander elektroniese toerusting die satellietsein.
Volgens Ranganathan is een van die negatiewe aspekte van Mercury privaatheidskwessies. Voornemende gebruikers sal dus moet besluit of hulle bereid sal wees dat hul aktiwiteite deurentyd gemonitor te word.
Teks-na-spraakprogrammatuur werk reeds foutloos, maar spraak-na-teksprogrammatuur moet nog verfyn word .
Ranganathan en Lei is reeds besig om die stelsel te verfyn. Hulle ondersoek maniere om die kommunikasie na meer as twee persone uit te brei sodat konferensie-oproepe tussen vyf mense byvoorbeeld moontlik sal wees.
Mercury kan moontlik oor vier jaar op die rakke wees. V cvandyk@dieburger.com